Friday 25 March 2011

56. Donderdagaand is nou hooky aande

Kan ek julle voorstel aan Rosemary, Alice, Alissa, Christina, Naoko, Kate en Sarah. Hulle is my nuwe maatjies. My hekel en (hulle) brei maatjies saam met wie ek elke Donderdag by 'n pub in Kingston kuier!!! Ja julle, ek het 'n holte vir my voet, 'n oase van kreatiwiteit en 'n nessie van samesyn gevind.

Dit het mos als begin toe ek Alfin (regte naam Alissa) by die Crochet London meetup ontmoet het. Sy het my gesê die groep vroue wat in Kingston bymekaar kom is nice, maar ek kon in my wildste drome nie raai dat hulle so nice is nie! Die groep begin al 6 uur bymekaar kom so toe ek net voor 7 opdaag sit daar reeds drie dames (Rosemary, Alissa en Christina), elk reeds met 'n bord kos. Julle weet mos hoe mens binne die eerste paar minute van iemand ontmoet, sommer net weet of jy sal "kliek". Mens kry mos 'n vibe. My ma sê as daai vibe nie lekker is nie, is dit omdat jou "gees bots". Nou mense, my gees het al drie daai vrouens omhels in groot drukkies! En niemand het nog 'n stukkie hekel of breiwerk uitgepluk nie, ek het net geweet HIER gaan ek lekker kuier!

'n Rukkie later het die andere drie dames opgedaag so ons was in totaal ses. Die drie ander was net so nice. Die laaste een wat opgedaag het was Alice.  Sy is vreeslik bubbly en doen die mooiste breiwerk - nie dat die ander nie ook mooi goed maak nie! Rosemary brei byvoorbeeld vir haarself 'n romp, en Sarah hekel 'n baba kombersie met die mooiste kleure denkbaar.

Elke nou en dan het mense my natuurlik bietjie uitgevra oor myself. Met die uitvra, sê Alice dat sy werk waar ek woon (ons woon naby my man se werk)..... Turns out, sy werk saam met my man! Nie op dieselfde vloer nie, maar hulle ken mekaar! Kan julle dit oorvertel?! Eers is dit Alissa, en nou Alice! Dis net te bleddie amazing!!!! Noudie dag het iemand kommentaar gelewer op my blog inskrywing oor hoe ek vir Alissa ontmoet het. Sy het gesê sy glo dat hoe meer jy doen wat jy veronderstel is om te doen, of as jy jou passie begin volg, hoe meer toevallighede gebeur met jou. Truer words have not been spoken!

Ek weet al lankal dat hekel my "ding" is en ek het van die begin af gewens ek kan by 'n groep inskakel met nice mense by wie ek kan leer en op my gemak is by. Dit het twee keer voelers uitsteek geverg (iKnit London en London Crochet Meetup) maar uiteindelik het ek my mense gevind. Ek kan julle regtig nie sê hoeveel dit vir my beteken om hierdie groep vroue te ontdek het nie. Kyk, internet vriende (Facebook,  Ravelry en die mense wat my email na aanleiding van goed wat hulle op hierdie blog sien) is wonderlik, en my man is die dierbaarheid self want hy raak ook saam met my opgewonde oor my hekelwerk, sê gedurig hy is trots op my, gaan saam wolwinkel toe en kom tel my op by die pub na my kuier, maar die arme man kan ook mos net tot op 'n punt my passion deel, so om nou elke Donderdag saam met (ten minste!) ses hekel en brein entoesiaste te kuier is mos 'n dream come true. (Flippit, maar daai was 'n lang sin!)

My eerste kuier was die 3de Maart, maar ek het eers gisteraand kans gekry om 'n foto te neem van die groep so die blog inskrywing is basies drie weke laat. (Ek wou mos nou die arme mense afskrik deur 'n kamera uit te pluk en te wys dat ek niks gewoond is op die eerste ontmoeting nie!).

Ek vra om verskoning vir die blurry foto - duidelik vereis die "Party/Indoor" setting op my selfoon 'n baie steady hand.

Van links na regs is Kate, Christina, Alice se ma, Alice, Rosemary (se voorkop) en Alissa. Sarah en Naoko het eers later opgedaag.


Hierdie is die oomblik toe Alice haar Fish Goujons kry - almal sit breiwerk neer en oe en aah eers.


In die afgelope drie Donderdae het ek al geleer dat ek nie baie ingewikkelde hekelwerk moet saam neem nie want ek sal moet FROG. Laas keer het ek byvoorbeeld die Big Round blokke saamgeneem om aan mekaar te werk vir die agterkant van die kussings, maar moes meer as die helfte die volgende dag uittrek want ek het te veel geluister na die ander gesprekke om die tafel en die blokke agterstevoor vasgewerk!

Ek dink die groep is eintlik 'n gesels-en-lag-en-lekker-pub-kos-eet-groepie-met-'n-bol-wol-op-die-skoot, waar jy een keer 'n week kan afshow met wat jy die ander ses dae van die week by jou huis gemaak het. Dus, my tipe groep!

No comments:

Post a Comment

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...