Tuesday 22 March 2011

54. Blomme inspirasie

Ek hekel mos nou al van Februarie af 'n storm los. 36 blokke vir Boeta se kussings, en 36 blokke vir skoonsus s'n. Dis vreeslik baie kettingstekies, dc en sc! Om nie eens te praat van al die draadjies wat ek moet wegwerk nie! Skoonsus se 18 Waterlilies is nou al almal klaar - ek moet net wag vir die blokkerasie om droog te word en aanmekaar werk. Yeah!


Tussen Sondag se Waterlilies klaar maak, en die begin van die agterste blokke, wou ek darem eers 'n russie rus. Manlief stel toe voor ons gaan kwekery toe, en wat 'n uitstekende plan was dit nie!

Dit is mos nou amptelik Lente hier by ons  en oral begin blommetjies kop uitsteek. Daar is nog baie kaal takke, maar mens kan darem al die begin van blaartjies en blommetjies sien, soos dié enetjie op my pad stasie toe.  En kyk daar reg onder teen die stam, loer die daffodils ook uit!


Ek dink regtig dat vandat ek in Engeland woon, ek helder kleure en Lente net meer waardeer. Na 'n baie lang grys winter kan mens mos nie anders as om super opgewonde te raak oor blou lug, en splinternuwe plantjies en bloeisels nie? Ons wag al van November maand hiervoor! Maar selfs die wete dat dit amptelik Lente is, kon my nie voorberei op die pragtige, bont blommetjies en grasgroen jong blaartjies by die kwekery nie.




Hand on heart julle, terwyl ek daar tussen die rakke deurstap kon ek voel hoe my binneste (my siel?) lig word, en ek vroliker en vroliker raak met elke tree wat ek tussen die plantjies neem.
Ek het natuurlik nie leë hande by die kwekery weg gestap nie. Neverste nooit! Ek het een van die blou potte in die voorgrond op die heel eerste foto, gekoop. In fact, ek dink dit was die linkerkant se een. Daar is twee plantjies daarbinne wat nog nie geblom het nie, so dit gaan 'n lekker suprise wees om te sien wat, en watter kleur dit is! Die derde plantjie in die pot is 'n wit Primrose (dieselfde tipe plantjie as op die foto hierbo).

Met my nuwe potplantjie op sy spot buite die agterdeur, kon ek weer met baie ywer hekel. Daai kleur inspuiting by die kwekery het my beslis geinspireer, want kyk net hoe mooi is een van die blokke wat ek maak!


Ek gaan drie in hierdie kleur kombinasie maak, drie met 'n wit randjie in plaas van die blou, en nog drie met 'n geel randjie in plaas van blou.

Is dit nie wonderlik dat ons op 'n planeet woon waar mens geinspireer kan word deur die doodgewone, klein, gratis dingetjies om jou? Fantasties, en 'n seën van epidermiese proporsies (soos Oubaas sou sê).



No comments:

Post a Comment

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...