Thursday 28 April 2011

60. Blommetjie gedenk aan my

So, dis die drie dae tussen Paasnaweek en die Royal Wedding-Summer Bank Holiday en die kantoor is dood, dood, dood stil. As ek kon het ek by my lessenaar gesit en hekel maar helaas. Gelukkig is een van my base steeds met kraamverlof so haar kantoor is myne om te gebruik tussen een en twee. Gistermiddag het ek rustig daar gesit en 'n blom borsspeld gehekel! 'n Halfuur jobbie - lekker instant gratification.

Die wol wat ek gebruik is is Gedifra Fiorista, in skakering 5376. Dis 'n Aran, self striping wol van 88% katoen, en 12% polyester. Dit hekel vreeslik lekker, en baie vinnig! Ongelukkig het my eerste blom nie so kleurvol uitgekom soos ek gehoop het nie. Ons het sooo goed begin, maar teen die tyd wat dit gekom het by blomblaartjies vorm, het die wol besluit om te hou by pers. So dit lyk nou eintlik net na 'n gewone pers blom.

Ek sal maar net moet seker maak dat ek die blaartjies mooi uitsprei, of ek kan natuurlik net nog 'n blom hekel.... wat ek gisteraand inderdaad gedoen het!

Maar voor die blom by die huis in 'n borsspeld verander is, het ek hom as 'n rekenaarskerm versiering gebruik (die hakspeldjie was toe mos nog nie aangewerk nie). My rekenaarskerm lyk vir my so parmantig met die skewe blommetjie. Ek kon nie altyd die rooi X of die "File" knoppies sien nie, maar wie worry.


Hier is albei blomme, pragtig langs mekaar. Natuurlik sal elkeen afsonderlik baie mooi lyk, maar in my opinie is "less" definitief nie "more" as dit kom by hekel nie!
 


Sien julle wat ek bedoel met die een blom is net pers? Die boontste een wys darem hoe oulik die self striping yarn is.

Die patroon vir hierdie mooie borsspelde kom uit die "Inside Crochet" tydskrif Februarie 2011. Die ontwerper beveel 'n Rowan chunky wol en 5.5 hekelpen aan, maar ek het met my Aran 'n no.5 pen gebruik. Ek is seker die patroon sal net so lekker werk, en die blom bietjie kleiner wees, in 'n DK met 'n no. 4 hekelpen. Die eerste rondte is 'n magic ring, en dit was 'n first vir my ook. Hierdie link wys jou presies hoe om 'n magic ring te maak: http://carinascraftblog.wardi.dk/2010/07/crochet-magic-ring-tutorial.html

Dit raak mos nou koud in Suid-Afrika, en so 'n blomme borsspeld (of drie) sal pragtig lyk op 'n trui of 'n jas... ek sê maar net. Use it, don't use it. ;-)

Sunday 17 April 2011

59. Ons vorder mooi

Dagsê mede haakers! Ek loer net gou in om julle 'n update te gee op die Floating Wrap. Dit vorder vreeslik goed! Ek maak 'n sirkel (of soos my man dit noem, 'n doilie) sommer tjoef-tjaf klaar en die "join as you go method" werk vreeslik lekker.

Agt groot sirkels gedoen, 22 om te gaan. Ek kan ook bevestig dat mens op hierdie stadium alreeds die wrap oor jou skouers kan drapeer en jouself in die spieel kan bewonder ;-)



Soos julle kan sien geniet ek ook nog vreeslik die mooi weer: 'n bolletjie wol, 'n lekker patroon, blommetjies en 'n beker tee. Wat meer kan mens vra?!

Het enige iemand die patroon gekoop? As jy ook hekel aan 'n Floating Wrap, laat weet my! Dit sal lekker wees om te hoor hoe ander haakers hekel aan die wrap!

Sunday 10 April 2011

58. Al Fresco hooking

Die son skyn, die lug is blou, dis 20 grade en die patio tafel & stoele is uitgepak. Ai maar Lente in Engeland is briljant!!! Kyk net hoe mooi groei die plantjies wat ek noudiedag by die kwekery gekoop het:


Ons het vandag ook ons eerste dier op die vuur gehad vir 2011! Flippit, ek het lanklaas so uitgesien na 'n braaivleisie! Ons braai met gas (don't dis it before you've tried it) so daar is nie 'n gekuier om die vuur nie. Ook maar goed so want ek was so rasend lus vir braaivleis ek sou die vleis rou eet as ek moes wag vir stupid kole!

Terwyl manlief die manlike braai ding doen, het ek my hekelpen opgetel en begin haak. Al Fresco. Wat 'n groot verandering van sit op die sitkamerbank met central heating! This is the way to hook people!



Tannie Paarman se speserye is nooit vêr as daar 'n vleisie op die kole is nie. Ook nie my Argilla bak nie:


Julle wil seker weet wat maak ek. Wel..... dis 'n wrap. Maar ook nie heeltemal nie. Dis so tussen 'n tjalie en 'n wraparound trui. Hier is 'n link na die ontwerper se blog met foto's van die Floating Wrap. Jy kan die patroon op haar blog vir $4 koop - dis ongeveer R27.  http://crochetbyfaye.blogspot.com/2011/03/floating-wrap.html 

Is dit nie pragtig nie?!  Imagine dit oor 'n t-hemp (lank of kort) by 'n romp of jean?!

Die ontwerper stel 'n Rowan 4 ply wol voor, maar ek maak myne in 'n Gedifra Mayra, wat 'n 10 ply worsted weight is. Ek het die wol al in Februarie op uitverkoping gekoop. Dis regtig sooo 'n lekker wol - 90% katoen en 10% nylon wat beteken dis koel, het goeie steek definisie, maar darem 'n knertsie van 'n skynsel en hou sy vorm baie mooi.  Ek weet dis meer as dubbel so dik as wat die patroon vereis, maar die wrap is mos nie iets wat 100% so groot moet wees soos die instruksies sê nie so ek worry nie daaroor nie. Ek het ook op Ravelry gesien dat ander vrouens sê hulle wraps was te kort, so hulle moes ekstra sirkels hekel, maar as my sirkels sommer van die staanspoor groter is, gaan ek myself baie moeite spaar.

Ek sien sooo uit daarna om hierdie wrap te dra! Mag daar nog vele sonnige naweke wees sodat ek buite kan sit en hekel. Ek dink die braaivleis reuk en sonnetjie op my skouers verleen 'n ekstra dimensie, wat die wrap sommer baie spesiaal maak.  Die sirkels lyk vreeslik ingewikkeld, maar dit is regtig nie. Ek wil nou ook nie snaaks wees nie, maar hy leen homself baie lekker na 'n twee, miskien drie kleur ontwerp ook.... (watch this space)

Sunday 3 April 2011

57. Ta-daaaaah

Dis klaar! Skoonsus se kussings is klaar!!!! 12 Maart het ek die eerste Waterlily begin hekel, en vanmiddag 11:14 die laaste draadjie geknip.  Kyk net hoe vro(u)lik:





Van die 7de Februarie, toe ek met Boeta se kussings begin het, tot 3 April was ek regtig nonstop besig om te hekel. In die trein, by die werk, na werk en naweke. 72 blokke later (ja, my no.4 hekelpennetjie het 72 blokke gehekel in minder as 2 maande!) is dit als verby. Dit was 'n lekker projek, veral omdat die kussings verrasings is vir familie wat vêr bly. Ek het dit ook vreeslik geniet om die 9 blokke vir elke sy uit te pak, rond te skuif en dan weer ander kant om te skuif totdat ek gelukkig is met die "look". All in all, was dit 'n lekker projek, maar nou.... nou is ek nogal verlig dis verby. Ek kan nou bietjie brieke aandraai met die spoed waarteen ek haak. Stadig(er) oor die klippetjies van nou af.

Net nog een laaste dingetjie wat ek wil sê: ek dink die kussings lyk bleddie mooi! So mooi dat hierdie nie die laaste haak van 'n Waterlily blok was nie  - my sitkamer stoel soek definitief twee Waterlily kussings van sy eie....



LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...