Sunday 27 September 2009

9. Ta-daah!

Die tweede kussing is klaar!

Na ek die eerste een klaar gemaak het, het Johan baie vinnig die agterkant (sans pienk en blommetjie) as sy gunsteling verklaar en gevra dat "sy kussing" asseblief minder pienk moet hê. In my kop was die twee kussings eintlik een stelletjie maar my liefste man hou nou net plainweg niks van die voorkant van die eerste kussing nie so daar is nou 'n His and Her kussing. As ek bed op maak draai ek dit dat die pienk voor is, as hy bed op maak is die agterkant na voor. As ons fliek kyk in die bed en hy het dibs op die kussing, MOET sy kop op die agterkant lê.

En dis als omdat my man net mooi NIKS hou van pienk nie. Soos in glad nie. Ek het toe maar besluit om vir sy kussing vier groot blokke te doen, elkeen met 'n baie manlike navy blou randjie sodat die oorwegende kleur blou is. Hy het ongelukkig baie vinnig opgemerk dat daar twee kleine ou sirkeltjies pienk is in twee van die vier blokke. "Ek hou nie van pienk nie!!!!!". (As jy 'n fan is van Friends, imagine Johan sê dit op die manier hoe Joey sê "Joey doesn't share food!") Ek vreet hom op op as hy so vreeslik erg upset raak oor nie-manlike goed (considering dat 'n gehekelde granny square kussing seker die toppunt van on-manlike dinge is!). Ek het voorgestel dat ek vir hom karretjies, of cowboys of brandweerwa knopies op die pienk dele vaswerk maar dit sal ook nie werk nie want "die knope sal my pla". Gelukkig kon ek hom darem oortuig dat dit regtig baie min pienk is, hy sal nie gay lyk as hy met sy kop op die kussing lê nie en die agterkant is vreeslik butch want daar is nie een ou stukkie pienk in nie, so nou is hy happy met sy manlike kussing.

Hier is die Granny & Grandpa Square kussings.


Ek vreet jou op my man, en ek maak enige tyd weer vir jou 'n super butch kussing!

Friday 25 September 2009

8. Go Grannys!!!

Granny Squares are taking over the world! Cate Blanchett het vroeër hierdie maand hierdie rok by 'n "red carpet event" in Australie aangehad. Ek dink die vrou het guts!

Ek sal vir myself nog eendag 'n gewone truitjie of onderbaadjie hekel maar ek weet darem nie van 'n granny square design vir 'n rok nie…. Then again, ek en Johan het die naweek The Boat That Rocked gekyk en daar was 'n vrou wat twee granny square onderbaadjies het en ek was mal daaroor, so wie weet. Miskien maak ek eendag 'n granny square onderbaadjie maar ek dink nie ek sal hom na 'n "red carpet event" dra nie - julle weet, ek is mos vreeslik famous en word gereeld genooi na sulke dinge.

Either way, cudos to Cate, en dankie dat jy Granny's hip (probeer) maak het.

Friday 18 September 2009

7. Haak agter in die trein

My nuwe ding is nou om in die oggend op pad werk toe in die trein te hekel! Ek sit heel agter in die hoekie, langs die venster, en kry sommer baie rondtetjies van my granny squares klaar. Die voorkant van die tweede kussing vorder dus vreeslik goed te danke aan die halfuur hekel in die oggend.

Ek het nou al drie keer hierdie week so gehekel op die trein en ek begin nou agterkom dat mense nogal bang is om langs iemand te sit wat nie boek lees, koerant lees, iPod luister, sudoko invul of flieks op hulle iPhone kyk nie. Dinsdagoggend het 'n ou byvoorbeeld by Surbiton stasie tot reg agter in die trein gestap, gedraai na die leë stoel langs my en toe hy sien ek sit daar en hekel gaan sit hy sowaar as wragtig twee rye voor my! Ek het maar probeer om dit nie te persoonlik te vat nie. By die volgende stop het 'n ander man dieselfde gedoen maar hy kies toe 'n sitplek aan die anderkant van die paadjie van my maar kyk so elke nou en dan na my kant toe. By die volgende stop staan hy op en skuif sitplekke om langs my te sit. Vanoggend het daai einste man sommer dadelik langs my kom sit. Duidelik het hy agtergekom dat ek hom nie met die hekelpen in die oog sal steek, of vra om my bolletjie wol vir my vas te hou nie.

Dis net so vreemd dat mense se eerste reaksie as hulle iemand sien wat iets anders as die gewone lees of musiek luister doen, hulle te vermy. Regtig mense, ek benut my tyd net baie goed, en doen wat vir my lekker is! Dis nie asof ek soos een van die tannies te kere gaan nie!


My spot reg agter in die hoek het ek gekies sodat ek nie aandag hoef te trek nie. Ek moes egter Donderdagoggend in die gangetjie sit, maar nooit ooit weer nie! Halfpad deur die treinrit was ek al bewerig en kon nie 'n lekker hekel ritme kry nie want ek bly my verbeel die mense wat in die gangetjie staan hou my dop. Ek het vir myself gesê ek is nou net stupid is want in die vyf jaar wat ek al trein ry werk toe, het ek nog nooit iemand op die trein sien hekel nie. So ek dink dis safe to assume dat daar nie regtig baie mense is wat so lief is vir hekel dat hulle op die trein sal doen nie, so wat is die kanse dat die een persoon wat in die gangetjie langs my staan, sal weet as ek 'n fout maak.

Maar dan dink ek weer dat in die vyf jaar wat ek al trein ry werk toe ek nog nooit iemand sien hekel het nie, en dus beslis aandag gaan trek! Toe sit ek maar my hekelwertjies weg en belowe myself ek sal net haak as dit agter in die donkerste hoekie van die trein is.

Sunday 13 September 2009

6. Ta-daah!

My eerste kussing is klaar en op die bed!!! Gisteraand het ek die ma-moerse grannysquare vir die agterkant klaar gehekel en vanoggend 11:12 het ek die laaste draadjie geknip na ek die pante aanmekaar gewerk het. (Ja, ek het dus die agterkant in 2 dae gehekel - dis wat gebeur as jy hekelmal is!)

Ek moet erken ek het nie gedink dit sal so vinnig gaan nie - minder as 'n maand, en dan was daar nog een langnaweek waar ek glad nie kon hekel nie want ons was in Amsterdam, en ek is halfpad met my eerste projek! Gepraat van Amsterdam - die knopie in die middel van die blommetjie is gekoop in De Knopenwinkel in Amsterdam.




Johan verkies die agterkant - sy ogies rol sommer van lekkerkry:

En ek hou van die voorkant - blommetjie in my oog en al:


Ek dink ek sal maar vinnig moet begin werk aan die tweede een, want wie kry die kussing vanaand wanner ons fliek kyk in die bed?!

Saturday 12 September 2009

5. Een kwart is klaar

Die voorkant van die eerste kussing is klaar!



En ek werk rustig, en baie lekker, aan die agterkant.


Friday 4 September 2009

4. Ek vrek oor hekel!

Hoe is dit moontlik dat iets soos hekel my every waking moment kan beslaan? Voor ek aan die slaap raak in die aand lê ek en dink aan die ontwerpe van my 2 kussings - onthou, ek maak 'n voorkant en 'n agterkant vir elke so ek het 4 ontwerpe om te oorweeg - dis vreeslik baie kans vir van plan verander. Ek dink aan hekel wanneer ek stasie toe stap, wanneer ek in die trein is, wanneer ek werk toe stap, middagete tye wanneer ek op die internet kan gaan, wanneer ek weer stasie toe stap, op die trein huis toe, wannneer ek huis toe stap en dan weer voor ek gaan slaap! Al wanneer ek nie dink daaraan nie, is wanneer ek besig is daarmee.

Maar dis nie net die slaapkamer kussings waaraan ek so dink nie, nee ek beplan al aan die serp wat ek gaan hekel wanneer die kussings klaar is! En DIE se ontwerp en kleurskema verander ook elke keer! Oe, en dan is daar nog die handsak, beanie, borspelde en eventually die kombers wat ek gaan aanpak! Ek is nog nie eens halfpad deur my eerste projek nie en ek het al 5 ander opgeline!!! Dit verg al my wilskrag om nie nou al die bolle wol te gaan koop vir ten minste die serp nie (ek weet by the way al presies wat ek soek en die wol is reeds in die website se "shopping basket" - ek moet net "buy" druk). Ag jissie ek "sien" al myself die bont serp om my nek swaai en al die kyke wat ek sal kry (admiring glances natuurlik!), en hoe mooi dit gaan lyk wanneer hy hang agter die voorportaal deur saam met al my ander serpe. Ek sal sommer daai deur laat oop staan net sodat ek my serp kan afshow. Sien. There I go again!

Wanneer ek nie daydream oor haak nie, sit ek doodstil in my hoekie op die rusbank en haak. Dis gewoonlik na aandete en na ek myself forseer het om darem die skottelgoedwasser te pak en die wasmasjien aan te sit. Ek moet myself forseer om daai goed eers te doen anders word dit nooit gedoen nie!

My man kan getuig van die wasgoedmandjie wat op die oomblik lyk of iets daar opgegooi het want hy loop so oor. En van sy sokkielaai wat leeg is want al die skoon sokkies is nog op die droograk - sien, dis wat gebeur as ek nie dissipline toepas nie, maar ek het darem nog net 4 granny squares oor om te doen vir die voorkant van die eerste kussing, so die huiswerk afskeep is als vir 'n baie goeie doel.

Ek is mal daaroor dat ek so kreatief kan wees! En dit nogal met iets wat bruikbaar is, wat vinnig gaan en dat daar eindelose kleur- en ontwerp moontlikhede is vir my. En dit neem nie baie spasie op nie en kos ook nie baie nie. Dis so coool! En dit maak my sooo happy!

So liefie, bear with me. Stap maar oor die wasgoedmandjieklere wat uitpeul en ons moet maar aanvaar dat ons onderklerelaai nie meer so tjok en blok vol sal wees nie - in fact, ons sal seker meer van ons skoon klere op die droograk kry as in die laaikas maar dink net aan daai pragtige kussings wat een van die dae op die bed gaan lê. Oe, en natuurlik hoe mooi ek gaan lyk met my bont serp......en die beanie......... en die handsak.........en die borspeld.


LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...