My nuwe ding is nou om in die oggend op pad werk toe in die trein te hekel! Ek sit heel agter in die hoekie, langs die venster, en kry sommer baie rondtetjies van my granny squares klaar. Die voorkant van die tweede kussing vorder dus vreeslik goed te danke aan die halfuur hekel in die oggend.
Ek het nou al drie keer hierdie week so gehekel op die trein en ek begin nou agterkom dat mense nogal bang is om langs iemand te sit wat nie boek lees, koerant lees, iPod luister, sudoko invul of flieks op hulle iPhone kyk nie. Dinsdagoggend het 'n ou byvoorbeeld by Surbiton stasie tot reg agter in die trein gestap, gedraai na die leë stoel langs my en toe hy sien ek sit daar en hekel gaan sit hy sowaar as wragtig twee rye voor my! Ek het maar probeer om dit nie te persoonlik te vat nie. By die volgende stop het 'n ander man dieselfde gedoen maar hy kies toe 'n sitplek aan die anderkant van die paadjie van my maar kyk so elke nou en dan na my kant toe. By die volgende stop staan hy op en skuif sitplekke om langs my te sit. Vanoggend het daai einste man sommer dadelik langs my kom sit. Duidelik het hy agtergekom dat ek hom nie met die hekelpen in die oog sal steek, of vra om my bolletjie wol vir my vas te hou nie.
Dis net so vreemd dat mense se eerste reaksie as hulle iemand sien wat iets anders as die gewone lees of musiek luister doen, hulle te vermy. Regtig mense, ek benut my tyd net baie goed, en doen wat vir my lekker is! Dis nie asof ek soos een van die tannies te kere gaan nie!
My spot reg agter in die hoek het ek gekies sodat ek nie aandag hoef te trek nie. Ek moes egter Donderdagoggend in die gangetjie sit, maar nooit ooit weer nie! Halfpad deur die treinrit was ek al bewerig en kon nie 'n lekker hekel ritme kry nie want ek bly my verbeel die mense wat in die gangetjie staan hou my dop. Ek het vir myself gesê ek is nou net stupid is want in die vyf jaar wat ek al trein ry werk toe, het ek nog nooit iemand op die trein sien hekel nie. So ek dink dis safe to assume dat daar nie regtig baie mense is wat so lief is vir hekel dat hulle op die trein sal doen nie, so wat is die kanse dat die een persoon wat in die gangetjie langs my staan, sal weet as ek 'n fout maak.
Maar dan dink ek weer dat in die vyf jaar wat ek al trein ry werk toe ek nog nooit iemand sien hekel het nie, en dus beslis aandag gaan trek! Toe sit ek maar my hekelwertjies weg en belowe myself ek sal net haak as dit agter in die donkerste hoekie van die trein is.
No comments:
Post a Comment