Monday 28 February 2011

48. Blok die blokke blokkerig

Ek het mos nogal 'n geskiedenis as dit kom by acrylic wol blok - onthou die saga van die Doris Chan "killed the yarn" truitjie van 2010?  Hierdie naweek was dit weer sulke tyd - met 18 15cm x 15cm blokke - almal in acrylic wol gehekel.  Maar weet julle wat, dit was glad nie so 'n groot drama soos laas keer nie!

Die blokke kom almal uit 200 Crochet Blocks deur Jan Eaton. Agter in die boek sê sy jy moet acrylic wol net nat spuit, die water bietjie invryf, en dan vasspeld en vanself laat droog word. Niks stoom strykysters, of handdoeke in sig nie! Kan dit regtig so maklik wees? Ja dit kan! 

Hieronder is 'n 45cm x 45cm vierkant - ek het reeds al die blokke aanmekaar gewerk - wat ek op die manier geblok het.

 


Die blou spons waarop dit vasgespeld is, is wat vir my die verskil gemaak het. (Laas keer het ek mos op 'n kwilt en 'n handdoek die speldjies probeer vasdruk). Ek  het bietjie op die internet gaan rondkyk en daar gesien dat mense hierdie EVA/foam speelmatjies gebruik. Dis blykbaar die goed waarmee plakkies gemaak word, so dis dun en sag, maar steeds dig genoeg dat 'n speldjie lekker daarin kan staan. Hier by ons moet jy dit in pakke van 4 koop, maar ek was gelukkig genoeg om 'n ou op eBay te vind wat elke mat afsonderlik koop. Ek het net £1.99 betaal insluitende aflewering! En as ek ooit eendag iets groter wil blok, koop ek net nog 'n blok!  Dit werk sooo lekker!

Ek het op google.co.za gaan kyk vir soortgelyke blokke, en darem een maatskappy gevind wat dit ook in Suid-Afrika verkoop:
http://www.brightkidproducts.co.za/products_brightmats.htm

Kyk waarmee spuit ek my blokke nat: 'n ou Annique Verfrisser houertjie! Net om anderste te wees, gooi ek 'n paar druppels Johnson & Johnson baby cologne ook in die water. Dit ruik so lekker terwyl ek spuit, en die reuk bly sommer in die wol vassit. Baie nice!


Julle sal merk dat ek nie vreeslik veel sê oor my blokke, maar glo my dit borrel in my! Ek kan net nie genoeg kry van 200 Crochet Blocks en al die kleur kombinasies en opsies nie. Dit verg vreeslik baie van my om nie ure lank te babbel oor hierdie projek nie. Vir eers moet ek dit net bietjie onder my hoed hou. Die blokke deel is van twee kussings wat ek as 'n geskenk vir my broer maak. Hy weet ek maak vir hom kussings - want ek het hom gesê hy moet twee van Mr. Price Home se 45cm x 45cm kussings gaan koop, maar meer as dit mag hy nie weet nie.  Na hierdie twee kussings, gaan ek ook twee vir my skoonsuster maak.  As daar dus 'n vae kans is dat jy my broer of  my skoonsuster ken - hou hierdie blog entry vir jouself!

Maar as jy sukkel om hekelwerk te blok, gaan koop vir jou 'n spons mat - dit werk soos 'n bom!

1 comment:

  1. Hi, heel verveeld sit ek vir my dogter en wag, toe krap ek maar op die internet rond.
    Jou bloggie oor hekel blokke inspireer my skoon om sommer na 'n hekelpen te gryp!
    In my jonkwees tyd het ek ook nog langs my ouma-grootjie op die rusbank geleer hekel. Die mooi kleure en die vinnige maak van stekke het my ure gefasineer. Ek kon net nie genoeg kry van die een blok na die ander nie. Die keurigheid van haar werk en die ywer was vir my 'n die motivering om altyd te leer en altyd te versorg. Sy was 'n jong meisie van 17 in die Boereoorlog. Sy het haar jong boetie in die konsentrasie kamp verloor. Haar verhale en deurnis het my so aangegryp dat als wat sy my wou leer, het ek gulsig verorber.
    Dankie vir jou inspirasie en so bly dat dit nog mense opgewonde maak om iets self temaak.
    Trots op jou!
    27/04/2011

    ReplyDelete

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...