Thursday 19 May 2011

64. Hekelstories

Ek het julle mos noudie dag vertel dat ek gereeld eposse kry van mense reg oor Suid-Afrika wat my vertel van hul hekelwerk, en hoe hulle in die hekel ding ingekom het. Wel, vandag gaan ek een van die stories met julle deel. Karin, van Robertson in die Wes-Kaap, het toestemming gegee dat ek haar storie met julle deel. Ek het net twee sinnetjies uit die email gehaal, maar die storie is nes sy dit vir my gestuur het:

Beste Natasja
Wat 'n voorreg om 'n mede hakkertjie te ontmoet.  My ma het my leer hekel nog voor ek skooltoe gegaan het en ek het so pas 47 geword, dus hekel ek al vir 41 jaar en dit word net al hoe lekkerder.
Ons is 2 susters wat net 2 jaar in ouderdom verskil.  Het maar in die maer jare grootgeword en ma het geglo dat 'n kind nie net geld in die hand gestop word nie,  o nee, ons moes woeker ou girl. 
Sy het verskeie ou wolletjies gehad en ons moes daarmee blokkies hekel, die buitenste rand moes altyd swart wees en dan het ma dit aanmekaar gewerk.  Ons het 2 sent per blokkie verdien en daarmee kon ons dan by die kafee gaan lekkers koop.  Onthou dit was met Noag se tyd toe 2 sent nog iets kon koop.  Ek dink ons het 4 Wilson toffies daarmee gekoop, as ek nou reg onthou!
Ma was ook baie streng en as die blokkie nie mooi netjies gehekel was nie, moes dit uitgetrek word.  Net 'n geldjie vir die wat reg was. So kan ek nog baie hekelstories uitryg.
Haker groete
Karin

Is dit nou nie die oulikste, oulikste storie nie! Ek is seker daai 2c blokkies met die swart randjies was die tradisionele granny squares, want die properse granny komberse word mos altyd met 'n swart randjie gedoen. Ietsie soos hierdie:


Kan julle ook die twee dogtertjies picture wat vreeslik hard konsentreer op hulle grannies net sodat hulle geld het vir lekkergoed? Dis sooo oulik!

Ai julle, ek VREK oor hakertjies. Ons is net anderste, en dare I say it, bleddie oulik! Noudat so baie van julle vir my emails stuur, kom ek regtig agter dis 'n tipe mens wat hekel, and I like it!!

Tussen die skryf van die boonste paragraaf, en die publiseer van hierdie inskrywing het Ouma Amanda kommentaar gelos op een van my ou inskrywings. Gaan lees bietjie wat sê sy hier: http://ekhekel.blogspot.com/2009/08/335-hakerige-storie.html, dan sal julle sien wat ek bedoel met ons hakers is net wonderlik, fantasties, anderste mense! She proves my point in spades! You gotta love the hookers! 

P.S.: Karin, jy en jou sus kan gerus nog stories stuur. In fact, enige iemand wat die blog lees kan maar oulike hekel stories stuur. As jy jou storie net met my wil deel is dit dood dollies (of moet ek sê dood doilies), maar as jy nie omgee nie, sal ek dit graag op die blog wil sit vir almal om te lees.

2 comments:

  1. Hallo Natasja.

    Man, maar jy het 'n alte ougat blok hier. My suster op Robertson, Karin Rabie, het my van jou blok vertel en ek kuier nou al die heel oggend hier.

    Ek admireer jou oor jy jouself leer hekel het. Ons was so gelukkig om in 'n huis groot te word waar ons ma ons leer hekel en brei het voor ons nog omtrent behoorlik 2 woorde agter mekaar kon se. Ons het begin met die "granny squares". Later het dit meer gevorderd geraak en het ons ons hand aan doilies en dies meer gewaag.

    Karin was die flukse ene, ek het meer in lees belang gestel, dit was nogal 'n grap in ons huis, die gespot was dat sy eendag haar huis mooi sal kan opdollie met fraaie doilies en ek maar 'n boek op my kaste en tafeltjies sal moet sit.

    Gelukkig raak mens mos groot. Nou kan ek nie 'n oomblik stil sit sonder om iets te doen nie, hetsy hekel of brei. Al ons vriende en familie ken ons altyd besig met 'n ietsie.

    Dat jy jouself geleer het is wonderlik, dit lyk my al meer jongmense begin deesdae belang te stel om weer te hekel en brei en dit doen my hart goed om dit te sien.

    Doen so voort, jy maak die oulikste goed en ek is sommer weer van voor af geinspireer om nuwe goed te maak. Sal beslis bietjie van jou idees toepas.

    Baie dankie en sterkte met jou wonderlike idees en inspirasies.

    Hartlike groete van Vredendal

    Sonia Horn

    ReplyDelete
  2. Ek geniet elke oomblik al die stories. Ek kyk elke dag uit daarna.

    Wens ons kan sommer elke dag ietsie lees.

    Ek bly verbaas oor al die afrikaanse hakertjies.

    ReplyDelete

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...