Monday 18 January 2010

22. 'n Donkie stamp sy kop mos net een keer

Nes ek destyds gedoen het met klere maak, gee ek nou moed op met klere hekel - die blerrie goed pas my net nooit nie en ek sukkel my gat af!

Ek het julle mos vertel van die Shot & Stroh truitjie. Wel ek het gekom tot by die onderams en toe besef dis hooopeloos te klein. Maar om tot op daai punt te kon kom, het ek 3 keer oor begin, en nog 'n paar keer 'n paar afsonderlike rye uitgetrek. (Ek is baie trots op myself, en my man kan getuig daarvan, dat ek nie kwaad geraak het of in trane uit gebars het nie. Ek het net weer begin. En weer begin. En weer begin) Die kant patroontjie deel van die patroon was net te ingewikkeld, en saam met die "shaping" van die neklyn was dit kennelik net te moeilik vir my plat ou koppietjie. Toe ek dus agterkom dat ten spyte van my drie beste pogings, my arms steeds net-net deur die gate kom, het ek die ding in die drom gaan gooi. Don't flog a dead horse, 'n donkie stamp sy kop net een keer. Dit was alles verlede Saterdag.

Verlede Sondag begin ek toe met 'n nuwe truitjie. (Sien: ek het regtig hard probeer en nie dadelik opgegee nie). Die patroon is uit 'n boek wat Johan vir my vir kersfees gekoop het, een waarvoor ek gevra het. Dit was 'n breeze. 'n Total breeze! Die kant patroon was baie makliker, so die shaping van die neklyn het makliker gegaan en die vrou se patroon was nie vol foute soos die Shot & Stroh s'n was nie (ek moes op die uitgewer se website gaan en twee bladsye print met foute wat hulle na die tyd agter gekom het!).

Anyway, die tweede een was Soft Serve (wat is dit met my en "s" alliterasie hekel klere…). Die trui was Saterdagaand klaar gehekel. Dus het dit my net minder as 'n week geneem.

Soos julle kan sien was die eindproduk stellig ook te klein - ek maak nie die toppie wat op die voorblad is nie, nee myne is veronderstel om 3/4 moue te hê en tot op my heupe te hang (basies dubbel die grootte as wat hy hier bo is). Ek was egter verseker deur die mense in die Doris Chan groep op Ravelry (die skrywer van die boek het 'n groep op Ravelry waar jy vir haar kan vrae vra en sy vir jou stap vir stap foto's laai! Baie cool!) dat jy jou eindproduk moet "block" en in die blok proses sal dit gerek en gestrek kan word tot die regte grootte.

As per Doris se instruksies maak ek my hele truitjie papsopnat en sit hom in die wasmasjien op spin, haal uit, rek hom so vêr as wat ek kan en spelt die dingetjie op my ma se kwilt, op ons sitkamermat vas.

Ek het toe al begin vermoed iets is nie lekker nie want ek kry dit nie reg dat die ding rek tot die afmetings wat Doris gee vir my grootte nie. Hy bly ongeveer 5 inches te smal om die lyf, en 3 inches te smal in die arms. Maar ek hou moed en sê vir myself ek sal dit net weer blok sodra hierdie sessie droog is. Truitjie word droog, ek trek die spelde uit en woerts daar spring die ding so waar as wragtig weer terug na sy oorspronklike grootte!!!!! Moer!

Terug Ravelry toe. Turns out, jy kan nie 100% acrylic wol (onthou, ek wou mos begin met 'n cheapie wol, en cheap = acrylic) op die gewone manier blok nie! Nee, jy moet dit liggies stoom met 'n strykyster en 'n nat lappie. Almal waarsku jou jy mag onder geen omstandighede die strykyster te lank teen die wol hou nie, "because it will kill the yarn". Dit beteken die plastiekerigheid van die acrylic wol, smelt en jy verloor die tekstuur van die wol en dit word super glad en plat - soos wat plastiek maak as jy dit smelt. *Note to self: don't kill the yarn*

Terug sitkamer mat-en-kwilt toe, die keer met 'n strykyster.


Dit was nogal 'n gesukkel hoor. Ek het twee hande nodig om die truitjie tot sy max te rek, maar dan moet ek een hand weg vat om die spelde (wat almal ongeloooooflik stomp was!) in te druk, dan moet ek 'n nat lappie oor gooi, met my linkerhand nogsteeds onder die lappie sodat ek die hekelgoed verder kan rek en dan met my regterhand probeer stoom sonder om dit te lank te hou of my vingers te verstoom. En wat gebeur? I kill the yarn! I killed the yarn!!!! Ek het probeer fluff en pofferig maak maar die wolletjie is plat plat plat en hy blink vreeslik mooi. (Seker die weerkaatsing van die bright light waarvan almal so praat.)

Die moord was toe eintlik 'n blessing, want daar sien ek dat als wat ek mooi gestoom het, okay-erig hulle gerekde shape gehou het, maar die dooie, plat, en blink wol areas hou die shape perfek! It did not die in vain!

Dit beteken dat as ek die hele truitjie vermoor, dit miskien wel moontlik sal wees om dit tot sy max te rek en so te hou, so ek trek hom aan en gaan kyk myself in die spieel. Jiiiigggg! Die ding was steeds te klein! En weet julle wat? Dit LYK asof ek hom tot sy max gerek het. So 'n sleg gestopde wors effek. Ken julle daai "skilpaadjie" niertjies in netvet wat jy koop by die plattelandse slaghuise? Nou imagine die slagter het 'n 2cm x 2cm blokkie netvet wat hy oor 'n 10cm x 10cm bolletjie gemaalde niertjies moet span - dis hoe ek gelyk het.

Die hele "ek het dit self gemaak, my gat af gesukkel om die patroon te volg, en by die laaste stappie agtergekom die ding is te klein" is 'n herhaling van my kleremaak pogings toe ons in Surbiton gebly het. Ek het daai tyd selfs 'n Elna naaimasjien gekoop (hy staan nou in die garage) maar die klere wou net nooit mooi hang of reg sit nie. Ek het nooit goed gevoel daarin nie - altyd gevoel mense kyk na my en dink "Haai shame, mens kan sien sy het dit self gemaak". Gehekelde klere is besig om stellig dieselfde pad met my te loop.

So nou het ek besluit to hell met gehekelde truitjies. Ek sal my berus by bykomstighede en huisware. Daarvoor kan ek duurder natuurlike vesel wol gebruik want ek het nie 2miljoen bolle nodig nie, en as die ding geblok moet word sal ek dit kan doen sonder om sesde gebod te verbreek. (Ouma Aggie spin nou in haar graf sê ek julle!)

2 comments:

  1. O, het ek nou lekker gelees aan die storie en van tyd tot tyd heerlik gelag hier in my binneste soos ek my die rek-en-strek posisies verbeel het..

    ReplyDelete
  2. Ag sjame, ek ken daardie gevoel. Het 'n ruk gelede so oorgooi jas affêre gemaak. Gelukkig kon ek brou en aanlas aangesien dit my eie kop se patroon konkoksi was. My arme man moes later help om te kyk waar hang punte, maar helaas die jas het 'n ereplek in my kas gekry en in die somer gooi ek dit lekker oor my wit klere en dit verdoesel sowaar die vetjies of ten minste so verbeel ek my. Sal later vir jou 'n foto stuur. Karin Rabie

    ReplyDelete

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...