Showing posts with label Hekel groepies. Show all posts
Showing posts with label Hekel groepies. Show all posts

Wednesday, 15 June 2011

68. 'n Facebook bladsy net vir ons

Hakers, ek het baie exciting nuus vandag. As jy op Facebook is (en let's face it, wie is nie?) gaan doen 'n search vir Ons Hekel en "Like" die page want..... ons hekelaars/hekelinge/haakers het nou ons eie Page! Dis als te danke aan Christelle Botha se brainwave. Sy het my vanmiddag ge-email en gevra of ek dink dis 'n goeie idee om 'n ordentlike Page te stig vir ons Afrikaanse hekel mensies. Natuurlik is dit 'n goeie idee! Dis briljant! Ek kan nie glo niemand anders het daaraan gedink nie!

So dames, daar is nou 'n kuberspasie om jul hekelwerk af te show deur dit op die Wall te sit met 'n fototjie by, julle kan vrae vra, links na patrone of ander oulike hekel website uitruil, as jy weet van 'n wolwinkel met 'n lekker uitverkoping kan jy ander daarvan vertel, ons kan 'n Swap of a Crochet-along begin - the possibilities are endless!!!!!

Tussen my en Christelle gaan ons ook kyk of die Idees, Leef en Sarie tydskrif pages Ons Hekel sal "Like".

Die Afrikaanse haakertjies gaan Facebook op horings neem!

Friday, 25 March 2011

56. Donderdagaand is nou hooky aande

Kan ek julle voorstel aan Rosemary, Alice, Alissa, Christina, Naoko, Kate en Sarah. Hulle is my nuwe maatjies. My hekel en (hulle) brei maatjies saam met wie ek elke Donderdag by 'n pub in Kingston kuier!!! Ja julle, ek het 'n holte vir my voet, 'n oase van kreatiwiteit en 'n nessie van samesyn gevind.

Dit het mos als begin toe ek Alfin (regte naam Alissa) by die Crochet London meetup ontmoet het. Sy het my gesê die groep vroue wat in Kingston bymekaar kom is nice, maar ek kon in my wildste drome nie raai dat hulle so nice is nie! Die groep begin al 6 uur bymekaar kom so toe ek net voor 7 opdaag sit daar reeds drie dames (Rosemary, Alissa en Christina), elk reeds met 'n bord kos. Julle weet mos hoe mens binne die eerste paar minute van iemand ontmoet, sommer net weet of jy sal "kliek". Mens kry mos 'n vibe. My ma sê as daai vibe nie lekker is nie, is dit omdat jou "gees bots". Nou mense, my gees het al drie daai vrouens omhels in groot drukkies! En niemand het nog 'n stukkie hekel of breiwerk uitgepluk nie, ek het net geweet HIER gaan ek lekker kuier!

'n Rukkie later het die andere drie dames opgedaag so ons was in totaal ses. Die drie ander was net so nice. Die laaste een wat opgedaag het was Alice.  Sy is vreeslik bubbly en doen die mooiste breiwerk - nie dat die ander nie ook mooi goed maak nie! Rosemary brei byvoorbeeld vir haarself 'n romp, en Sarah hekel 'n baba kombersie met die mooiste kleure denkbaar.

Elke nou en dan het mense my natuurlik bietjie uitgevra oor myself. Met die uitvra, sê Alice dat sy werk waar ek woon (ons woon naby my man se werk)..... Turns out, sy werk saam met my man! Nie op dieselfde vloer nie, maar hulle ken mekaar! Kan julle dit oorvertel?! Eers is dit Alissa, en nou Alice! Dis net te bleddie amazing!!!! Noudie dag het iemand kommentaar gelewer op my blog inskrywing oor hoe ek vir Alissa ontmoet het. Sy het gesê sy glo dat hoe meer jy doen wat jy veronderstel is om te doen, of as jy jou passie begin volg, hoe meer toevallighede gebeur met jou. Truer words have not been spoken!

Ek weet al lankal dat hekel my "ding" is en ek het van die begin af gewens ek kan by 'n groep inskakel met nice mense by wie ek kan leer en op my gemak is by. Dit het twee keer voelers uitsteek geverg (iKnit London en London Crochet Meetup) maar uiteindelik het ek my mense gevind. Ek kan julle regtig nie sê hoeveel dit vir my beteken om hierdie groep vroue te ontdek het nie. Kyk, internet vriende (Facebook,  Ravelry en die mense wat my email na aanleiding van goed wat hulle op hierdie blog sien) is wonderlik, en my man is die dierbaarheid self want hy raak ook saam met my opgewonde oor my hekelwerk, sê gedurig hy is trots op my, gaan saam wolwinkel toe en kom tel my op by die pub na my kuier, maar die arme man kan ook mos net tot op 'n punt my passion deel, so om nou elke Donderdag saam met (ten minste!) ses hekel en brein entoesiaste te kuier is mos 'n dream come true. (Flippit, maar daai was 'n lang sin!)

My eerste kuier was die 3de Maart, maar ek het eers gisteraand kans gekry om 'n foto te neem van die groep so die blog inskrywing is basies drie weke laat. (Ek wou mos nou die arme mense afskrik deur 'n kamera uit te pluk en te wys dat ek niks gewoond is op die eerste ontmoeting nie!).

Ek vra om verskoning vir die blurry foto - duidelik vereis die "Party/Indoor" setting op my selfoon 'n baie steady hand.

Van links na regs is Kate, Christina, Alice se ma, Alice, Rosemary (se voorkop) en Alissa. Sarah en Naoko het eers later opgedaag.


Hierdie is die oomblik toe Alice haar Fish Goujons kry - almal sit breiwerk neer en oe en aah eers.


In die afgelope drie Donderdae het ek al geleer dat ek nie baie ingewikkelde hekelwerk moet saam neem nie want ek sal moet FROG. Laas keer het ek byvoorbeeld die Big Round blokke saamgeneem om aan mekaar te werk vir die agterkant van die kussings, maar moes meer as die helfte die volgende dag uittrek want ek het te veel geluister na die ander gesprekke om die tafel en die blokke agterstevoor vasgewerk!

Ek dink die groep is eintlik 'n gesels-en-lag-en-lekker-pub-kos-eet-groepie-met-'n-bol-wol-op-die-skoot, waar jy een keer 'n week kan afshow met wat jy die ander ses dae van die week by jou huis gemaak het. Dus, my tipe groep!

Tuesday, 22 February 2011

47. 'n Een uit 222 kans

So gisteraand is ek Royal Festival Hall toe vir die hekel groepie waarvan ek julle vroeër vertel het. Wat 'n belewenis!  Daar was in totaal seker so 12 mense, elkeen met 'n hekelprojek in die hand. Een vrou was besig om 'n kant handskoen te hekel, terwyl die handskoen op haar hand is! 'n Vrou aan my regterkant het 'n badmatjie gehekel en daar was iemand wat 'n blou olifant gebrei het met vier breipenne (sy was die enigste een wat gebrei het in ons groep). Ek het daar gesit met my grannie squares vir die Crochet a Rainbow projek. Die vrou met die kant handskoen het nogal gevra of dit my eerste keer is dat ek hekel - seker maar omdat grannies so 'n beginner ding is om te doen. :-)

Aan my linkerkant het 'n vrou gesit wat die hele aandjie vir my ge"maak" het. Ons het begin gesels toe sy vertel van 'n wolwinkel in die Twickenham area. Al die ander mense vertel van wolwinkels in sentraal London, maar haar bydrae was die enigste een uit my geweste. Ek vra haar toe later in die aand of sy gereeld soontoe gaan omdat sy in die area woon, en turns out sy woon in Kingston, wat 15 minute van ons af is. As sy nie daar shop nie, shop sy by John Lewis in Kingston (waar ek ook koop) of by Tudor Williams in New Malden, want sy wil nie vir John Lewis (hulle is soos Stuttafords met 'n wol afdeling) al haar besigheid gee nie, en dis presies wat ek doen! En die wol wat ek koop by Tudor Williams, is 'n lekker goedkoop acrylic - waarmee sy gisteraand sit en hekel, en ek my grannie squares mee maak! Die toevalle was net te freaky.

But wait, there's more. 'n Rukkie later pluk sy haar selfoon uit om een van die ander dames se profiel op Ravelry op te soek sodat sy die naam van 'n serp kan "favourite", en met die weg sit van haar foon sien ek 'n foto van die mooiste mooiste bont kussing op haar iPhone. Hierdie kussing:



Ek vra haar of die blompatroon "Waterlilly" is van Jan Eaton se 200 Crochet Blocks boek, en dit is. Daar begin ons praat oor die boek. Ek vertel hoe ek gaan slaap met die boek (regtig, dis my bedtime story boek), en net nie genoeg kan kry van al die mooie blokke nie, en sy doen blykbaar dieselfde. Sy vertel van 'n handsak wat iemand gemaak het met een van die blokke uit die boek en dat sy so mal is oor die handsak. Ek sê haar toe, ja dis seker "Willow" want ek het al 'n handsak gemaak met Willow. Ons praat nog so bietjie en toe vra sy my wat my naam is op Ravelry. NatKing. "But it's your handbag that I love! You're one of my friends on Ravelry!" Jy kon ons albei omslaan met 'n veer. Toe sy my haar naam gee vir Ravelry (Alfin) lui dit ook onmidellik 'n klokkie. Die vrou pluk toe weer haar iPhone uit en wys toe vir almal om die tafel my handsak op my Ravelry profiel en my Liewe Heksie serp! Ek sit maar net skaampies daar en knik my kop, "Yes, I did that". Skielik kyk almal toe met ander oë na my, ek raak skaam, en ek en Alfin (ek dink nie dis haar regte naam nie maar ek is te bang om te vra, want wat as dit is?!) skud net ons kop oor die total randomness van ons ontmoeting.

Nog 'n bonus is dat sy deel is van 'n hekelgroep wat elke Donderdagaand by 'n pub in Kingston bymekaar kom! Sy gaan my die details van die groepie stuur, en dan sal ek eerder by hulle groep inskakel as die Londen groep. So nou het ek 'n Ravelry maatjie in lewende lywe ontmoet en sal kan deel word van 'n plaaslike groep hakers!

Ek het vanoggend gesit en dink aan hoe amazing dit is dat ek die vrou in lewende lywe ontmoet het. Daar is 222 lede van die London Crochet Meetup, waarvan 12 opgedaag het gisteraand. Ek het 40 vriende op Ravelry (nie regtig vriende nie, dis meer mense wie se hekelwerk ek volg, of hulle volg myne) waarvan sy een is, en sy het vyf Ravelry vriende. Nou wat is die kanse dat ek en sy albei gisteraand by RFH was, en langs mekaar gesit het? En dat ek net in daai splitsekonde na haar selfoon gekyk het om daai mooie kussing raak te sien.

Is dit nie wonderlik as die Universe mense en dinge oor jou pad bring wat jou siel so kan verryk, en net pleinweg happy maak nie?!

Thursday, 27 August 2009

3. 'n Hakerige storie

Julle, hierdie hekel ding ruk nou hand uit. Dit maak nou glad dat ek Woensdag aande tot 8 uur op straat is. Ek bevind my vir 2 ure na werk omring deur 30 vrouens, bolle wol, breipenne, hekelnaalde en glase wyn. En verlede week het dit als plaasgevind op die sypaadjie ook nog: I was litterly hooking on the street. Welkom by die duistere wêreld van 'n Knitting Club met 'n drank lisensie! Hehehehehe. Voor julle nou my naam op die gebedsversoeke lysie sit laat ek verduidelik.

Ek het verlede week vir die eerste keer die Knitting Club bygewoon. Dit word gehou in 'n wolwinkeltjie naby Waterloo stasie. Jy daag maar net op so rondom 6 uur, gryp 'n stoel en gaan sit en hekel of brei. As jy wil kan jy 'n glasie wyn of bier koop om te help relax (dit help ook dat jy nie te veel worry as jy 'n steek laat val nie). En dis dit. Al die vrouens sit maar net so rond en chat en brei.

Verlede Woensdag was 'n heerlike sonnige dag so daar was drie tafeltjies buite die winkel, op die sypaadjie waar ons gesit het. Dit was mos my eerste keer daar so die eienaar van die winkel het my sommer dadelik aan iemand voorgestel en ek is saam met die girl na buite. Dit was heerlik om buite te sit en hekel. Mense stap verby, stop en staar, ander ignoreer ons heeltemal maar ons brei en hekel net voort. Ek het regtig seker net twee sinne gepraat die hele tyd wat ek daar gesit het. Het maar net rustig die kat uit die boom gekyk. Frankly het ek nie vreeslik baie gehou van die tipe mense om die tafel nie. Hulle was bietjie afshowerig en wil net mekaar impress. Daar was ook nie veel gebrei nie.

Nou kyk, ek worry regtig nie of jou wol 100% wol is, of dit sydraadjies in het, of dit gekleur is met beet of met rooi sintetiese kleursel nie. En as wol vir my mooi is sal ek dit koop - agrylic oftenot. En ek stel nie belang daarin dat jy jou wol in Florence gekoop het nie (veral nie as jy nie kan sê watter maak van wol dit is nie want jy het dit gekoop sonder die "label" wat dus vir my laat dink jy het dit by die R10 winkel weergawe van Florence gekoop). Ek het die girls (hulle is almal vroeeë 30's / laat 20's) maar net so gekyk en geluister en vir myself gesê volgende week kom ek weer, maar dan soek ek 'n ander tafel om by te sit.

En dis toe presies wat ek gisteraand gedoen het. En wat 'n verskil!!! Die vier afshowerige girls was weer gisteraand daar maar hulle het in 'n hoek op hul eie gesit en ge chierrie-chierrie. Ja mense, daar is selfs klieks in die wol wêreld!

Ek het deur die loop van die aand met drie mense gepraat, en dit was al drie van hulle se eerste keer daar. (Wonder of hulle ook vandag blog en vertel van 'n hekelende Suid-Afrikaner by die Knitting Group). Ek was die enigste een daar wat hekel. Dit was nogal nice want niemand kon kyk na my en dink ek weet nie wat ek doen nie, want ek is al een wat dit doen! Ek was die beste hekelaar daar :-)

Een van die vrouens het "lace knitting" gedoen. Sjoe dis fyn werk daai! Die breipen is verskriklik dun en die wol net so dun en dit lyk of sy vir eeeewig brei voor die dingetjie langer word. 'n Ander meisie brei met Tesco plastieksakke wat sy in stroke gesny het! Mens noem dit plarn (PLastic YARn)! Sy sê sy sal nie aanraai mens brei 'n trui nie want dis bietjie krapperig, so sy maak 'n handsakkie. Sy is die een aan die linkerkant:


Hier's nog twee skelm geneemde foto'tjies:


Twee ander vrouens wat naby my gesit het, het sokkies gebrei en hulle doen dit met vier double ended knitting needles. Ja vier! Dis amazing.

Julle sal my nie glo as ek julle nie wys hoe die vier pen storie lyk nie, so hier is 'n foto van google af:

Op een stadium het die een vrou met net drie penne gebrei en sy kon nie uitfigure hoe sy dit reg gekry het nie. Binne 'n minuut het iemand langs haar vir haar gewys hoe om die vierde pen weer in te brei. Sommer so tjoef-tjaf het sy weer vier penne (en hier sit ek met een hekelpen… maar ek het darem sewe bolle wol so dit tel darem seker vir iets). Die tweede girl wat sokkies gebrei het, is 'n Sielkunde student. Sy het eintlik die Space Invader sokkies begin brei vir haar kêrel, maar hulle het aan die begin van die week opgebreek so nou hou sy die sokkies vir haarself. Good for you! Sy was nou besig met die regterkant se sokkie soos in die foto hieronder. Dis vreeslik intricate stuff.


Mens hoor ook die snaakste stukkies van gesprekke as jy so sit om 'n tafel met 30 mense. Daar was 'n man wat gepraat het oor hoe gefrustreerd hy is met een van die karakters in sy BBC Radio 1 storie. En vroeg in die aand hoor ek "I hate the yellow. I can't stand the yellow!" Dit van 'n vrou wat 2 rye geel in die eerste 5 cm van 'n trui ingebrei het. Die trui is nou al 30cm lank en sy wil als uittrek sodat sy daai twee onderste rytjies geel kan verander. Almal wat om haar gesit het was vreeslik upset met haar "No you can't! Look at all the work you've done! Live with it!". Dit is duidelik 'n tragedy of epic proportions as jy iets wil uittrek. Halfpad deur die aand hoor ek haar weer "I will not let a stupid stocking stitch jumper get the better of me. I will not!" Ek neem aan sy het maar besluit om te leef met die geel streep…….. Of sy het nog 'n glasie wyn gehad en worry nou net nie meer nie.

Op pad huis toe in die trein het ek sommer verder gehekel. Ek het dan nou al my goedjies by my so die temptasie was net te groot.

Van nou af sal ek elke Woensdagaand agter Waterloostasie wees met my hekelpen en bolle wol. Die opwindende lewe van 'n hakertjie!


LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...